KKNK bring regte boodskap vir regte tyd 

Die KKNK se nuwe bemarkingsveldtog kom asof dit gestuur is! ’n Kuur vir elke kwaal. Die regte boodskap op die regte tyd. Ná baie jare se gewroeg kan ons uiteindelik weer die kernkonsep van ’n “fees” omarm op die vlaktes van die Klein Karoo. Suid-Afrikaners is sat gewroeg en moeg vir sukkel sonder krag en hierdie vars bries wat die KKNK ons beloof, is net die ding wat die dokter voor-geskryf het.
Deel met ander

Maar wat is ’n land of ’n samelewing tog sonder die kunste en sonder goeie teater wat met erns omgaan met die kwessies wat ons as samelewing raak, maar terselfdertyd vermaaklik kan wees om gehore tevrede te stel? Die KKNK-span het vir maande hard gewerk om ’n gebalanseerde program saam te stel – geen geringe taak nie. Dit verg geweldige kreatiewe dinkwerk, onderhandelinge en bloed, sweet en trane. En daarom is NATi weer eens geweldig trots om geassosieer te word met die aanbod op vanjaar se teaterprogram. Die verskeidenheid produksies bied werklik iets vir almal se smaak en voorkeure – jy kan kom lag en huil of net kom besin.  

Ons daag gehore uit om die teaterprogram te bestudeer en keuses te maak buite hul gewone verwysingsraamwerk. Dit is die wonderlike ding van ’n kunstefees – jy kan tot jouself verras.

FOTO:
Cornelia Faasen
Uitvoerende hoof: NATi