“Ek doen die afgelope 30 jaar wat vir my verskriklik lekker is. Hierdie prys is ’n geweldige eer en het my onkant gevang. En dis nie skyn-nederigheid nie. Om vereer te word vir iets wat vir jou so lekker is om te doen, voel amper verkeerd,” sê Deon Meyer.
Met sy boeke wat in 27 tale vertaal is, die een treffer ná die ander en hoe hy homself die afgelope tyd ook bewys het as draaiboekskrywer en vervaardiger, wys net weer hoekom hy een van die suksesvolste Afrikaanse skrywers is.
“Ek sien myself nog steeds as die outjie van Klerksdorp. Ek het nog nooit vir erkenning geskryf nie. As jy voor ’n leë blad sit, beteken pryse niks nie. Maar bygesê: Hierdie verering van die KKNK is spesiaal omdat die KKNK so groot rol in my lewe gespeel het. Die eerste keer wat ek as skrywer by ’n fees was, was by die KKNK met Feniks, wat in 1996 verskyn het.” Intussen het daar 15 boeke uit sy pen verskyn, met die jongste, Leo, wat in Oktober 2023 bekend gestel is.
In 2018 het Coenie de Villiers Deon omgepraat om deel te word van die produksie Karoo Suite. Karoo Suite II: Karoonagte het gevolg en was soos sy voorloper ’n reusesukses onder gehore.
“Ek was totaal buite my gemaksone, maar by Coenie, ’n jare lange vriend, voel ek veilig. Toe hy dus sê ons moet saamwerk aan ’n musiekblyspel, het dit my 15 sekondes geneem om ja te sê.”
Die musiekblyspel Roem debuteer by die KKNK en het onder andere Anrich Herbst, Daneel van der Walt, Eldon van der Merwe en die nuweling Nelandi Boshoff in die rolverdeling.
“Dis ’n droom wat ek gehad het sedert ek Tommy se klankbaan gehoor het toe ek 19 was. Ek het probeer om ’n musiekblyspel te skryf, maar het besef ek kan dalk die storie en die lirieke skryf, maar nie die musiek nie. Dit het soveel jare geneem vir Coenie om hierdie droom van my waar te maak.”