Dit het alles met ’n koerantadvertensie begin. Eldon van der Merwe was 12 jaar oud en op skool in Piketberg. Twee onderwyseresse en sy ma, Melviline, het gesien hulle is op soek na kinders om in ’n verhoogproduksie van Fiela se kind te speel.
Lang storie kort: Juffrou Venter het Eldon in die skool se bussie Kaapstad toe geneem en twee maande later het hy gehoor die rol van Tollie Komoetie is syne. “Ons het nie drama op skool gehad nie, maar ek was nog altyd ’n entertainer,” sê Eldon. “Ek dink ek het dit by my pa, Greg, gekry. Hy is ’n smous en het die hele Piketberg vermaak met sy manier van praat. Dit was vir my ’n studie van mense en ’n bewys hoe aansteeklik happiness is.”
Ná skool het Eldon drama by Northlink College in Kaapstad studeer. Op TV is hy bekend vir sy rolle in Arendsvlei en Ouboet & Wors, maar dis veral in die teater waar Eldon sy merk maak. By vanjaar se fees is hy te sien in Fietsry vir dommies en die musiekblyspel Roem.
“Wanneer ek skole toe gaan om motiveringspraatjies te gee, sê ek altyd dis soos ’n aflos. Die generasie voor ons – ek is in 1994 gebore – het so ver gehardloop om vir ons deure oop te maak. Ons het nou die stokkie in ons hande en ons kan nie net daar staan nie. Ons moet verder hardloop.”
Die prys vir jong stem is vir hom ’n groot voorreg. “Hierdie kind van Piketberg,” sê Eldon, asof hy dit self nie kan glo nie. “Ek haal my hoed af vir organisasies soos Kunste Onbeperk en NATi wat belê in die kunste. Ek dra hierdie prys op aan alle jong mense. Mag hulle ook die kanse kry wat ek gekry het.”
Daar is ’n egtheid in Eldon wat deurskyn. Hoe hy praat van sy grootwordjare, sy ouma Cathy Arries wat op die verhoog gehardloop het ná afloop van die openingsaand van Fietsry vir dommies en hoe hy by sy ma geleer het om ’n dirigent in die kerk te wees. “Moenie toelaat dat mense toegang tot jou vrede kry nie. Plant die liefde waar jy gaan en wanneer jy weer daar verbykom, sal jy sien hoe dit gegroei het. Ek wil werk skep, vir ander kanse gee. Hierdie jong stem wil nog hard praat.”