“Jy kan nie speel wat nie geskryf is nie,” sê Jana Cilliers. “Soos ek altyd sê: Ek is netjies grootgemaak en hierdie prys is ’n eer en ek is dankbaar, maar dit maak dit soveel meer spesiaal om ’n verering vir vertolking te kry vir ’n stuk wat ek geskryf het.”
Die stuk is Veelhoek, ’n gesprek tussen Jana en haar neef Barnard Gilliland, die belowende digter wat sestig jaar gelede op 24-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede is.
Jana, intelligent, sag van geaardheid en tydloos-mooi, sê sy is sku om te praat oor hoe haar werk waardeer word. “Dis ’n vraag wat ons onsself deurentyd moet vra: Wie dien jy? Vir my moet die werk die praatwerk doen. Teater is ’n lewende oomblik en die gehoor is net so deel daarvan. Hierdie verering van die KKNK, wat al so lank ’n bydrae maak om die kunste lewendig hou, is ook ’n verering van teater se bestaansreg.”
Jana, ’n boorling van Pretoria, het ná sy haar BA-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal het in Londen aan die Royal Academy of Dramatic Art studeer. Terug in Suid-Afrika het sy haarself in rolprente, TV en in die teater gevestig as een van die groot name van haar generasie. “Die diversiteit van ons bedryf, die feit dat ons alles van radio tot teater kan doen, was nog altyd tot groot voordeel.”
Die woord “dankbaarheid” duik gereeld in die gesprek op. “As ek terugkyk na die geleenthede wat oor my pad gekom het, veral nou as ouerwordende aktrise, is dit met groot dankbaarheid. Ek is geseën met skrywers soos Ryk Hattingh, Terrence McNally (skrywer van onder meer Master Class waarvoor sy in 1996 ’n Fleur du Cap-prys gewen het) en soveel ander. Natuurlik kom jy sonder ’n vindingryke regisseur nie ver nie en hier moet ek Marthinus Basson en Mark Graham uitsonder.”
En die toekoms?
“Ek sal voortgaan om ’n kreatiewe lewe te leef,” sê Jana. “Ek is ’n ma en ouma, ’n kunstenaarsma met ’n liefde vir die gewone. As die regte projek oor my pad kom, sal dit ’n eer wees.”