Karoo Kaarte

Multidissiplinêre gemeenskapsprogram

’n KKNK-projek, ondersteun deur die Jannie Mouton-stigting, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, die Wes-Kaapse regering en die Oudtshoorn-munisipaliteit

MET kernspan van Tiffany Saterdaght, Theo (Oom Japsnoet) Witbooi, Colin Meyer, Diano October, Melikhaya Blou, Charissa Essau, Jermaine Bruintjies, Chantell Phillipus, Zietske Saaiman, Shandré Harris, Ferron Booysen en inwoners van Oudtshoorn FASILITEERDERS Neil Coppen en Vaughn Sadie

Karoo Kaarte is ’n grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry.

Karoo Kaarte se sukses lê daarin dat dit bestuur word deur mense wie se harte en arms oopstaan om almal van die gemeenskap wat wil deelneem te betrek.” – Diane de Beer, gerekende resensent

Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer is nie. Stories oor persoonlike ruimtes, herinneringe uit kinderdae en tradisionele kennis van dié Klein Karoo-dorp en sy mense. ’n Lewende argief word deur alle deelnemers aan die opwindende projek saamgestel en ’n platform word geskep wat plaaslike talent na die voorgrond bring, om die nasionale kollig te verbreed en kunstenaars uit eie bodem in te sluit.

Teater en visuele kuns word as kreatiewe prosesse ingespan, ondersteun deur Karoo Kaarte se navorsing en argief, om ’n spesiale program vir die KKNK saam te stel. Hierdie inhoud het oor die afgelope twee feeste harte gesteel met herinneringe, drome en kinderspeletjies eie aan Oudtshoorn-inwoners.

Op Oudtshoorn verwys “om kaarte te sny” na gesels en die vertel van ernstige en lighartige stories. Die naam Karoo Kaarte sinspeel op dié dubbele betekenis van kaarte in die Oudtshoorn-streekstaal.

Karoo Kaarte is reeds talle kere bekroon, onder meer met die BASA IDC Community Development-prys (2023), die Wes-Kaapse kuns-en-kultuur-prys vir mees innoverende kunstefees (2023) en die KKNK Herrie-prys vir innovasie of grensverskuiwende werk (2023 & 2022). Karoo Kaarte is benoem vir vier Pendorings (2023) en dié projek se teaterproduksies, Droomkraan Kronieke (2023) en Op hierie dag (2022), is vir meer as tien KKNK Kannas en vyf kykNET Fiëstas benoem. Die ensemble van Droomkraan Kronieke is met die Woordtrofee vir beste ensemble by die Toyota US Woordfees in 2023 bekroon. 

Karoo Kaarte, saam met talle inwoners wat aan die navorsing deelgeneem het, betrek Oudtshoorn-gebaseerde visuele kunstenaars, digters, skrywers, kunstenaars, inheemse kennisdraers, musikante, leerders, onderwysers en aktiviste om vir die derde jaar inhoud dwarsdeur die fees en oral op die dorp aan te bied vir ’n herinterpretasie van die afgelope jare se navorsing.

Die Karoo Kaarte-span is opgewonde om ’n program by die KKNK aan te bied, wat twee kunsuitstallings, ’n grafiese roman, ’n muurskildery, staptoere met begeleiding van die Karoo Kaarte-app en ’n splinternuwe plekspesifieke teaterproduksie saans by die eens fabelagtige, maar nou vervalle Oudtshoorn-spoorweg insluit.

Lees meer oor dié aanbod hier onder.
Argief is saamgestel uit die Karoo Kaarte-projekargief. Die uitstalling is geïnspireer deur kunswerke wat tydens die verskeie openbaredeelnameprosesse geskep is, asook werke wat deur die ...
Karoo Kaarte lei ’n gesprek oor die belangrikheid van die skep van gemeenskapsargiewe en die waarde daarvan om dit toeganklik en relevant te maak deur ...
Ná die sukses van Karoo Kaarte se aangrypende teaterproduksies Droomkraan Kronieke (2023) en Op hierie dag (2022) verlaat die teaterspan vanjaar die tradisionele teaterruimtes en ...
Soortgelyk aan Elemente, die Loop speel-zines en die kinderstorieboek Spekskiet en tande tel, skep Karoo Kaarte ’n eerste grafiese roman gebaseer op ’n keur van ...
Die KKNK se Karoo Kaarte is ’n grensverskuiwende openbaredeelname-storievertelprojek, gestig in 2021, wat ’n reeks van kreatiewe metodes (teater en visuele kuns) en navorsingsmetodologieë gebruik ...
Tydens die fees in 2023 het Karoo Kaarte ’n opwindende slimfoon-app bekend gestel, wat selfbegeleide toere herverbeel en saamgesmelt het met die mondelinge geskiedenis wat ...
Die Karoo Kaarte-uitstalling bied ’n oorsig van dié grensverskuiwende openbaredeelname-storievertelprojek. ...
Karoo Kaarte bied ’n interaktiewe werksessie vir kinders aan waarin jong feesgangers voorgestel word aan gewilde Klein Karoo-speletjies: skaloeloe, drie-blikkies, gaatjie en kennetjie. ...
Die Karoo Kaarte-span span kragte saam met die plaaslike visuele kunstenaar Liza Grobler om ’n openbare muurskildery te skep. ...