Vra jy vir Poem Mooney waar sy wortels die diepste begrawe is, antwoord hy: “My naelstring lê in Prins Albert.”
Dit is waar hy gebore is, maar Oudtshoorn is die plek waar hy seker die diepste spore getrap het. Poem is ’n leermeester, ’n digter en skrywer van boeke soos Kringe om die maan, Klink soos ’n klok en Stories uit lap, sy boek oor Prins Albert. Hy is ook ’n storieverteller, ’n Godsman en stamhoof van die Attakwa-Khoisan, wat hy in 2000 by die Wêreldberaad van Inheemse Volkere in Switserland verteenwoordig het.
“Ek het wonderlike jeugherinneringe,” sê hy. “My oupa was ’n steenmaker in Prins Albert en ons was ’n hegte familie om daardie kleigat. Ek het skoolgegaan op Oudtshoorn en my ook daar as onderwyser bekwaam.” As hy een ding as ’n hoogtepunt in sy lewe van 81 jaar moet uitsonder, is dit toe hy Kairos, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, in Oudtshoorn begin het. Later het Eljada, ’n sentrum vir intellektueel gestremde volwassenes, en Kairos saamgesmelt en nou staan dit bekend as die Eljada-Kairos Skool. “Dit is die grootste oomblik in my lewe.”
Poem se liefde vir Afrikaans is duidelik in alles wat hy doen en sê. “Ek het onlangs weer die nuwe HAT-woordeboek gekoop. Ek het drie van hulle plat gewerk! As jy gebind is aan ’n taal, het jy ’n plek; is jy geknoop aan jou land. Die KKNK is ook so ’n knoop wat van die begin ’n invloed op ons gemeenskap gehad het. Nie net in Oudtshoorn nie, maar ook van suid na noord. Hoeveel feeste het nie daarna begin nie?”
Sy persoonlike KKNK-hoogtepunt was toe Die eiland, ’n eenvroustuk wat hy saam met wyle Hans Oosthuizen geskryf het en waarin Muriel Engelbrecht gespeel het, op die fees opgevoer is. “Was dit nie vir die KKNK nie, sou dit nooit die lig gesien het nie.”
Hoe sal hy graag onthou wil word? “Vir my betrokkenheid in die gemeenskap. Ek praat en skryf graag oor die geskiedenis van ons land en hoe ons soms met skrefiesoë daarna kyk. Ek wil nooit in enige ander land woon nie. Ons moet positief bly. As jy positief is, kan jy voortgaan. My geloof is vir my belangrik en net vanoggend weer het ek gesê: ‘Here, sonder U kan ons niks doen nie.’ Ek is dankbaar dat ek hier in die Klein Karoo ’n verskil kon maak.”