Animalia

VISUELE KUNSKURATOR Dineke Orton

Mense het nog altyd ’n aangetrokkenheid tot diere gehad. Rotskuns oor die wêreld heen illustreer byvoorbeeld hoe diere al vir duisende jare ’n belangrike rol in die menslike kultuur gespeel het. Die term “animalia”, wat byna altyd in ’n wetenskaplike konteks gebruik word, verwys na ’n groepering wat alle diere insluit – insluitend mense. Die gebruik van hierdie term vir vanjaar se visuelekunste-tema van die KKNK is om die kollig te plaas op verskeie vorme van mens-dier-verhoudinge.

Deur die geskiedenis heen het mense ’n belangstelling in en verbintenis met die natuur getoon, verhoudings gevorm en uiteindelik bande met diere ontwikkel. Dit is waarskynlik dat die eerste interaksies met diere vir die mens gemik was op die hulpbronne – soos vleis, bene en velle. Omdat mense steeds saam met ander diere bestaan het, het mense ooreenkomste begin vind tussen hulself en die diere wat hulle teëgekom het. Diere is uiteindelik by kulturele seremonies ingesluit in die vorm van aanbidding, opoffering en as simbole. Die toenemende interaksies met diere het uiteindelik gelei tot vermensliking of dat menslike eienskappe aan diere toegeskryf is.

Besoek dié uitstalling van 23 tot 30 Maart tot 18:00 en op 31 Maart tot 14:00.

Terwyl vroeë verhoudings meer gefokus was op die dier as gebruiksware vir die mens, het die rol van die verhouding met diere verander en ontwikkel, met mense wat hulle ook as geselskapsmaats begin beskou het. Bande tussen diere en mense ontwikkel steeds. Vandag is die verhoudings met diere baie uiteenlopend – van diere wat in diens van die mens staan en as ’n produk ingespan word (d.w.s. vir klere, kos, vermaak en navorsing) tot die mees geliefde gesinstroeteldier.

Alhoewel baie van hierdie bande positief kan wees (dink aan mense se liefde vir troeteldiere, of rehabilitasie en bewaring), kan ander problematies wees. Kunstenaars en kurators is aangemoedig om die onderwerp te interpreteer op enige manier na goeddunke. Dit sluit in die ondersoek na die mens-dier-band of die mens-dier-afhanklikheid. Die verskeie ooreenkomste en verskille tussen dier en mens word ook ondersoek. Sulke ondersoeke raak aan bykomende temas, soos menswaardigheid en menslikheid. Negatiewe eienskappe van menslike gedrag, veral gewelddadige en impulsiewe gedrag, word gebrandmerk as dierlik. Andersyds word positiewe eienskappe van dieregedrag dikwels vermenslik. Is hierdie gedeelde eienskappe ’n aanduiding van ’n oppervlakkige skeiding wat tussen dier en mens gehandhaaf word, of is dit bloot geïsoleerde en toevallige ooreenkomste?

Sommige uitstallings ondersoek die simboliese betekenisse wat dikwels aan verskillende diere geheg word, soos gesien in sprokies, verskillende mitologieë sowel as dierlike ikonografie soos waargeneem in die kunsgeskiedenis. Die uitstallings hoef egter nie per se op diere te fokus nie. Die verkennings van mensgedrewe kwessies, kenmerke en idees is ook deel van die oorkoepelende tema.

Mense het ingewikkelde en veelvlakkige bande met diere, en deur hierdie verhoudings te verken, kan daar lig gewerp word op wat dit beteken om mens te wees.

Veeltalig • Gesin
Gratis
23 Maart, 11:00
24 Maart, 09:00
25 Maart, 09:00
26 Maart, 09:00
27 Maart, 09:00
28 Maart, 09:00
29 Maart, 09:00
30 Maart, 09:00
31 Maart, 09:00
Prince Vintcent-gebou

Het jy al gekyk na:

Hierdie tekenervaring is ’n interaktiewe geleentheid met Odette Graskie. Odette nooi die gehoor om deel te neem wanneer sy portrette teken. ’n Opvoerende tekengeleentheid as ...
Hierdie werksessie is vir diegene wat die wêreld van reliëfblokdruk wil verken, of net iets nuuts wil probeer – niekunstenaars en kunstenaars is welkom. ’n ...
Wou jy al ooit self deel wees van ’n uitstalling? Hou jy van kuns, maar weet nie hoe om self te begin nie? Of hou ...