Familieteater en -vermaak kry ’n nuwe tuiste! Die Klein KKNK-teater is ’n spesiale, goed toegeruste teatertent in die Feesmark. Toegang vir besonderse teaterproduksies is gratis vir alle Feesmark-kaartjiehouers. Plek in die teater is beperk en sitplekke is onbespreek. Sodra dit vol is vir een vertoning, moet die geesdriftige gesin vir ’n volgende vertoning terugkom. In die Klein KKNK-teater kan kinders van alle ouderdomme die wonderwêreld van teater ervaar. Tot en met drie kinderteaterproduksies word daagliks aangebied – wat ook heerlike ontsnapping en vermaak vir volwassenes bied. Ouderdomsgroepe word as ’n riglyn aangedui, soos die program noukeurig saamgestel is om vir spesifieke en alle ouderdomme te voorsien. In dié magiese area word ander sessies soos boekvoorlesings deur bekendes, poppekas en speletjies ook aangebied. Lees meer oor dié kinderteater-aanbod:
Die Feesmark bied verder ’n pretpark soos wat ’n mens net by feeste kry! Ure se musiekvermaak wag op die Feesmark-verhoog, ondersteun deur Huisgenoot, lekkers en ander lekkernye is te kies en keur by die honderde stalletjies. Familievermaak word ook elders in teaters aangebied met produksies soos Braam en die engel wat ’n absolute moet-sien is vir laerskool- en hoërskoolleerlinge.
Toegang tot die Feesmark is gratis vir kinders onder sewe met ouerbegeleiding en kos slegs R30 per dag vir kinders tussen sewe en 13 jaar oud.